Aan die oostekant van die NG Kerk Piketberg is twee grafte geleë. Regs is die graf van wyle Ds. JG Steytler en sy eggenote, Johanna van Reyneveld Steytler, en links die van Ds. JC van Niekerk en sy eggenote, Anna van Niekerk. Beide die predikante het in diens te Piketberg heengegaan.
Ds. Steytler is op 2 Junie 1864 op Victoria-Wes gebore. Hy het hom eers as onderwyser bekwaam, maar betree die bediening in 1902. Op 14 Augustus 1920 word hy op Piketberg bevestig waar hy tot aan sy dood op 28 Julie 1932 gearbei het.
In hom het Piketberg ’n predikant gehad wat besonder geliefd was. Met sy vriendelike, innemende geaardheid het hy diep in die harte van die gemeente gekruip. Ook vir Mev. Steytler was hulle baie lief. Getuienis hiervan is die feit dat die meisieskoshuis van die skool, 1921 ingewy, Leliehof genoem is na haar naam “Lilly”.
Ds. Steytler het baie uitgesien na die vieringe van die eeufees van die gemeente in 1933 en het hom voorgeneem om al die moontlike inligting te versamel om by die geleentheid mee te deel. Dit was hom egter nie beskore nie. In plaas daarvan moes die eeufees weens die vakature ’n jaar uitgestel word tot 1934 en is by daardie geleentheid die grafsteen, wat deur die kerkraad op sy graf opgerig is, deur sy eggenote onthul.
In April 1943 is waardering van ds. Steytler se kinders betuig vir die vergunning om ook hul moerder voor die kerk te begrawe en vir kranse deur die kerkraad gegee en in Oktober van dieselfde jaar is vergunning gegee om sekere veranderinge aan die grafsteen aan te bring en om vir hul moeder ’n steen op te rig.
***********
Ds. van Niekerk is gebore op 29 April 1897 in die distrik Namakwaland. Hierdie seun van Namakwaland sou diep spore trap op Piketberg. Hy was, na meegedeel, ‘n groot man en ‘n boer in die hart en by baie van die gemeentelede ’n besonder geliefde man. Hy is in Augustus 1937 in Piketberg bevestig.
Die simboliese ossewatrek met die eeufees van die Groot Trek en die Slag van Bloedrivier het in die bedieningstyd van ds. van Niekerk plaasgevind. ’n Uitgebreide Dingaansfeeskommissie is saamgestel om die Dingaanfees te reël.
Met die koms van die ossewa, die Johanna van der Merwe, is ’n perdekommando gereël om die wa op 16 Septemebr 1938 geleide te doen en is ’n gedenkplaat deur die kommando aan die kerkraad geskenk. Hierdie plaat is in die paal by die hek ingemessel. Later, in 1940, is besluit om die bekende eeufeesmonumentjie by die suidelike hek van die kerkgronde op te rig.
In 1946 moes aan ds.van Niekerk siekteverlof toegestaan word soos ook reeds in Februarie 1945. Die Algemene Armsorgkommissie versoek in 1947 dat ds. van Niekerk deur die kerkraad afgesonder word om teen die einde van die jaar vir drie maande die lidmate in Suid-Amerika te gaan besoek en dit word deur die kerkraad goedgekeur.
(Ds. van Niekerk se suster was ene Maria Lee, wat tydens 1946-1947 haar minnaar, Alwyn Smith, vergiftig het. In Mei 1948 word sy skuldig bevind aan moord en op 18 September 1948 word sy in Pretoria Sentrale Gevangenis gehang.)
Uittreksel uit Thys du Preez se boekie, Herinneringe uit my skooldae op Piketberg: ”Ek het baie laat in my lewe verneem dat die gifmoordenares, Maria Lee, ds. van Niekerk se suster was. Dit is so onder die kombers gehou deur die gemeente dat ek eers daarvan by my ma verneem het toe sy al in haar neëntigs was. Dit moet ek van Piketberg se mense van my tyd sê, toe hulle dit agterkom, het hulle vir dominee gestuur om vir ’n paar maande sendingwerk te gaan doen onder die Afrikaners wat in Argentinië gewoon het om hom die hartseer van die verhoor en doodsvonnis van sy suster te spaar. Nadat hy teruggekom het en die stof weer gaan lê het, het hy een dag in die straat, voor oom Gert Burger se winkel, inmekaar gesak en aan ‘n hartaanval gesterf.”
Op 9 September 1948 is die gemeente diep geskok deur die skielike heengaan van ds. J.C. van Niekerk in die ouderdom van 51 jaar. Hy is voor die kerk begrawe en die kerkraad het bygedra tot die oprigting van die grafsteen soos deur die familie verkies. Mev.vVan Niekerk het haar man oorleef met 30 jaar en is na haar heengaan in Oktober 1980 langs haar man ter ruste gelê.
Bronne:
FB van Niekerk 1983 150 Genadejare
Thys du Preez 2006 Herinneringe uit my skooldae op Piketberg