Jan “Bull” Pickard 1927 – 1998

Jan Albertus Jacobus Pickard trou met Alida Wilhelmina (Ada) Wiese in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Piketberg en in haar twintigste jaar is sy swanger met hulle eersteling. Tydens hierdie tyd verhuis die toekomstige ouers na Ada se familie plaas, Dwars-in-die-Weg, waar sy onder die bewaakte oog van ʼn Engelse vroedvrou haar seuntjie se aankoms afwag.

Alhoewel die Wieses feitlik geen Engels kon praat nie, en so ook die vroedvrou geen Afrikaans, daag die oomblik van afwagting aan op 25 Desember 1927 en ʼn gesonde seuntjie van 5.67kg is gebore. Die vroedvrou, borrelend van ekstase en Britse patriotisme, skreeu uit: “It’s a boy! We’ll call him John Bull!”

Die noemnaam het so n groot deel van sy identiteit gevorm dat dit vandag nog op sy grafsteen gelees kan word.

Jan “Bull” was bekend vir sy bedagsaamheid en hoflikheid sowel as ‘n wenner se instink op sowel die rugbyveld as in die sakewêreld. Pickard, ‘n oud-leerling van Paarl Gimnasium, wat vir die WP-rugbyspan en die Springbokke slot gespeel het, het ná sy speeldae ook bekend geraak as ‘n bekwame sakeman en het ‘n groot sakeryk opgebou in die eiendoms-, beleggings-, drank- en hotelbedryf. Hy is in 1954 getroud met Ingrid, dogter van Dr. T.E. Dönges, voormalige waarnemende staatspresident.

Jan “Bull” was kaptein van die WP rugbyspan vanaf 1953 tot 1960 en het in 1951-1953 en 1956 en 1958 vir die Bokke uitgedraf. Sy onortodokse styl het hom baie kere in die agterlyn laat beland. As voorspeler was hy ondanks sy grootte, steeds baie beweeglik en deur sy besondere leierskap verantwoordelik vir menige van WP se oorwinnings. Van 1981 tot 1991 was hy president van die WP-rugbyunie en lank lid van die destydse SA Rugbyraad se uitvoerende bestuur. Hy was ook voorsitter van die Rugbyraad se geldsakekomitee.

In sy latere jare skryf hy: ”You know, it’s a tricky thing – the secret of success. You have to think about it very carefully before answering .There are many things I could mention, but the honest answer is – the woman in your life. She provides motivation whenever you need it. Your happiness comes from the innermost circle.”