Die ontstaan van Steynville Primêre Skool en Steynville Sekondêre Skool

Na sy aankoms in 1871 in Piketberg het dominee C. Rabie hom dadelik begin beywer vir die stigting van ’n sendingskool om aan die onderwysbehoeftes van die bruin bevolking te voorsien. Op 16 April 1874 het hierdie skool geopen met 41 leerders. Die eerste onderwyser was Mej. E Hartogh.

In 1910 was daar ongeveer 80 leerders en twee onderwysers in die NGK-sendingskool. Die hoof was Mnr. C. Taljaard en sy assistent was mej. Sofie Dirks. Die skool het geleidelik gegroei en in 1918 is ’n vierde onderwyser aangestel. Aanvanklik is daar skoolgehou in die konsistorie van die kerk, maar in 1933 is die nuwe skoolgebou voltooi met 130 leerders en in 1960 het dit gegroei na 230 leerders.

Na die totstandkoming van die AME Kerk in 1903 is hulle eie skool gevorm en in 1905 het die skool sy deure geopen met mev. Sarah Bell as eerste skoolhoof. Dit was ’n privaat skool.

Vir eerwaarde Andrew Phigeland, was onderwys baie belangrik en hy het in 1918 daarin geslaag om die skool erken te kry as ’n staatsgesubsidieerde skool. In die volgende jaar in Mnr. Mtombini as skoolhoof aangestel.

In Januarie 1964 het die destydse Departement van Kleurlingsake onderwys vir bruin leerders oorgeneem van die Departement van Onderwys. Daar is toe aansoek gedoen om die samesmelting van die NGK Sendingskool en die AME Kerkskool. Goedkeuring is gegee en daar is begin met die bou van ’n nuwe skool. Hierdie skool sou bekend staan as Steynville Primêre Skool omdat die gebou geleë is tussen die woonbuurte Steynrust en Danville. In 1984 het die Steynville Sekondêre Skool tot stand gekom met Mnr. PJ Rickers as skoolhoof.