Aanvanklik het ek met ‘n skoon slae rekord begin. Was selfs klaskaptein in STD VII, maar toe eendag gee Mnr. Fanie “Pieng” le Roux my ’n paar rapse oor ek iets in Duits verkeerd vertaal het en toe voel ek my rekord is nou beklad. Teen die tyd dat ek die hoërskool verlaat het, het ek 66 rottinghoue op die lyf geloop. (En ek kan die hedendaagse onderwysowerhede die versekering gee dat ek geen skade daardeur opgedoen het nie). Mnr. Fanie le Roux was ook ons voetbalbreier. Ons is nog “gebrei”, maar vandag word jy glo “afgerig” en is ‘n drie op die telbord ’n vyf.
Daar was die Maandag toe meeste van ons nie Mnr. Roux (Mootjie) se Engelse huiswerk gedoen het nie en ons toe vir Sakkie Visser opsteek om Mnr. Roux iets te vra waarin hy ‘n afskuwelike grammatikafout maak – so hopende om sy aandag van die huiswerk af te lei. Wat Sakkie alles gesê het, onthou ek nie meer nie, maar “I is” het daarin voorgekom en dit was asof iemand ou Mootjie met ’n hoedespeld steek. Hy het geruk van die skok, die res van ons en die huiswerk vergeet en by Sakkie gaan staan om aan hom te verduidelik dat dit total ongehoord is dat mens in STD VIII nog “I is” sê. Dit is “I AM, you ARE, he IS, ensovoorts”.
My goeie vriend Hugo Coetzee (Wiekie) en ek kon dit regkry om ons ouers te oortuig dat ons nie in die koshuis kan leer nie. Oom Albertyn Smit neem loseerders in waar mens rustig kan studier, en hier het ons vele avonture gehad. Alfie Hamman, een van ons jonger maters, was ‘n intelligente kêrel en dit het ons lank geneem om hom te oortuig dat as hy al twee tant Annie se sambrele, wat in die gang aan die kapstok gehang het, vat – een sal nie genoeg remkrag verskaf nie – en van die muur by die stoeptrappie afspring, sal hy stadig neerdaal soos met ’n valskerm. Dat die arme Alfie die dag niks gebreek het nie lewer bewys dat daar tog beskermengele moet wees, dit is natuurlik nou afgesien van tant Annie se sambrele en die papajaboompie wat onder naby die ‘landingsterrein’ gestaan het.
Oom Willem Grobbelaar, die buurman oorkant die straat, het ’n rooi tweesitplek Mercurymotor gehad wat snags in die garage onder ‘n kombers “geslaap” het. Hy het die kar vreeslik goed opgepas. Daar was ’n jong bruin kind, ene Klaas, wat op sy werf gebly het en elke oggend het oom Willem vir Klaas opgelaai om dan hoër in die dorp op te ry om Die Burger te koop en op pad terug by Marais se Garage 1/-6 (15c) se petrol in te gooi. (In daai dae kon mens met 15c 4,5liter petrol ingooi.) Klaas se werk was om te dien as oom Willem se truspieël (oom Willem het nooit self terug gekyk nie) en Klaas moes sê of daar ‘n kar aankom wanneer oom Willem regs wou draai. Sover ek weet het oom Willem nooit ‘n ongeluk gemaak nie!
Uit my jong dae onthou ek vir ds. Van Niekerk wat in die veertigerjare predikant op Piketberg was. Hy het een Sondag in die Berg se kerksaal kom preek oor Chevkarre se knie-aksie. Die Chevs van daardie jare het ’n nuwe soort veerstelsel gehad wat bekend was as “knie-aksie”. Dominee het die dag gesê ons het nie genoeg knie-aksie nie, bedoelende natuurlik dat ons nie genoeg bid nie.
Later jare het ons ds. Rossouw gehad. Een Vrydag staan my pa en mnr. Fritz Lambrechts (prokureur en skriba van die kerk) voor laasgenoemde se kantoor en gesels en pa vertel hom hoe ons sukkel om ’n soort onkruid uitgeroei te kry wat op die Berg bekend was as “predikantsluis”. Met die stap oom Amos Coetzee, grapmaker van die dorp, daar verby en vang net die laaste woord en toe wil hy weet hoekom pa en mnr. Lambrechts oor die dominee in die straat staan en skinder. Daar was eenkeer iemand wat die opmerking gemaak het dat wanneer die vrugte op die Berg ryp was, dan het dominee daar huisbesoek gedoen en wanneer die boere op die vlakte Vrydae vee vir hulself en hul werksmense geslag het, dan het dominee dààr huisbesoek gedoen. My oom Jan Visser het hierop geantwoord: “Ag, gee die man sy boudvleis en los hom uit!” (Word vervolg)
(Mnr. Thys du Preez het hierdie geskrewe gedeeltes reeds in Julie 2006 aan die Piketberg Museum geskenk en hy was toe woonagtig te Waterkloofrif, Pretoria. Daar is ook ‘n ander wonderlike geskrif, Die Berg Piketberg en sy mense deur dieselfde skrywer by die Museum beskikbaar.)