Die vorm van die aarde in Piketberg se GRONDGEBIED gemeet; Die Kaapboog van Meridiaan 1752

In 1752 het Nicolas Louis de Lacaille ’n baken op die plaas Klipfontein, net noord van die latere Aurora geplaas.

De Lacaille is op 28 Desember 1713 in Rumigny, Frankryk gebore. Hy kwalifiseer as Astronoom aan die Royal Academy of Sciences en word later as Wiskundige Professor by die Mazarin College aangestel.

Sy ekspedisie na die Kaap van Goeie Hoop in 1751 is gebaseer op sy visioen om met behulp van trigonometrie die afstand tussen planete te bepaal. Tydens sy twee jaar verblyf hier in Suid-Afrika, het hy onder andere ongeveer 10,000 suidelike sterre gegroepeer en ook die aarde se radius in die Suidelike Halfrond vasgestel. De Lacaille het in die Swartland ‘n landmetersmerk noord van waar Darling vandag is, ingeslaan. Deur gebruik te maak van driehoeksmeting, het hy die 137 km afstand van die Meridiaan boog wat tussen Kaapstad en Aurora gesetel is, te voet afgelê. Sy resultate het bewys dat die aarde peervormig is en dat die Suidpool geleidelik groter word hoe nader jy daaraan beweeg.

Sy berekeninge was baie akkuraat, maar ongelukkig het hy versuim om die gravitasie of swaartekrag-effek van die reeks berge by Tafelberg na die noorde, asook die Piketberg -reeks na die suide, in ag te neem. Sir George Everest (na wie Mount Everest vernoem is) het 70 jaar later die bogenoemde invloede van die bergreekse aangewys maar dit is eers in 1838 deur Sir Thomas Maclear reggestel.

Nicolas Louis de Lacaille se baken is in 1994 as Nasionale Monument verklaar. Dit kan besoek en besigtig word op die pad tussen Aurora en Redelinghuys.