Die Ontstaan van die Piketberg spoorlyn

Die ontdekking van goud in die Transvaal het as grootste dryfkrag gedien vir die Kaapse Regering van die 1800’s om ‘n spoorlyn vanuit die Kaap, deur die Vrystaat en tot by die Rand vas te lê. Hierdie spoorlyn sou prioriteit wees en daarom is die beplande spoorlyn, deur Namaqualand, op sy gesit. Met die uitbreek van die Anglo Boere Oorlog by die eeuwisseling (1899), het die bou van hierdie spoorlyn alle prioriteite verloor.

Nietemin het die Boere Oorlog ’n ekstra inkomste vir die Kaap verseker en op 9 September 1901 is die 46 kilometer spoorlyn tussen Malmesbury en Moorreesburg geopen.

Vanaf Moorreesburg is die spoorlyn uitgebrei deur Piketberg tot in Eendekuil, naby die Olifantsrivier en Cederberge. Hierdie gedeelte van die lyn is amptelik geopen op 15 November 1902 en was van groot monetêre belang vir die boeregemeenskap. Koring produkte van die Swartland, sowel as citrus en ander vrugte uit die Clanwilliam-distrik is  per trein vervoer. So bly Eendekuil die eindpunt van die spoorlyn tot en met 1915, toe die lyn verder uitgebrei is tot in Klawer.