Verkorte geskiedkundige oorsig van Piketberg – vervolg

Gedurende die eerste paar dekades van die dorp se bestaan het die Kerkraad beheer oor die gemeenskap gehad. Hulle moes toesig hou oor die vier fonteine waaruit die inwoners hul water geput het en alle ander dorpsaangeleenthede. Na meer as ‘n halfeeu het die Kerkraad die saak gewonne gegee en in 1901 is die munisipale aangeleenthede oorgedra aan ‘n Dorpsraad met Mnr. Willem Liebenberg as Voorsitter. Aandag moes gegee word aan watervoorsiening, sanitêre geriewe, dorpsuitleg, behuising, gesondheid, sport en ontspanning.

Die dringendste probleem was water, want die paar fonteine was gou nie meer voldoende nie. ’n Kraan vir publieke gebruik was onderkant die kerk waar die kerksaal tans staan. In Januarie 1918 word pype in die dorp gelê en water aan inwoners beskikbaar gestel en word ‘n waterfiskaal aangestel om die reservoir te bewaak. Vandag verkry die dorp water uit die Bergrivier en die Voëlvleifonteine met ’n pypleiding van ongeveer 10km.

Die elektrisiteitvoorsiening aan die dorp was onder beheer van ‘n privaat kontrakteur, Mnr. Baraitzer. In 1931 kry hy toestemming van die Raad om drade vir elektrisiteit te span en bied ’n jaar later aan om die dorp van elektrisiteit te voorsien. In 1935 kry die dorp sy eerste ligte en straatligte. In 1957 word ’n ooreenkoms met ESKOM aangegaan vir die voorsiening van elektrisiteit.

Die Eeufeesvieringe van die Voortrekkers het naamsveranderinge by ‘n aantal strate in die dorp meegebring, byvoorbeeld: Castle Street – Bergstraat, Long Street – Kloofstraat, Garden Street – Hofstraat, Extention Street – Langstraat, Sand Street – Loopstraat en Cemetary Street – Die Trek. Die straatnaam Die Trek is ontleen aan die trekpad wat vee gevolg het na die water vanaf Hoofstraat. Piquetberg word op versoek aan die Kommissie vir Geografies Name in 1938 tot Piketberg verander. In 1939 word die eerste stopstrate aangebring in Kerk- en Langstraat en in 1940 word opmetings gedoen om vier strate, Voortrekker-, Hoof-, Kerk- en Kloofstraat te teer.

Die dorp se eerste biblioteek is reeds in 1873 gestig. In 1910 was die biblioteek gehuisves in ’n gebou op die noordelike gedeelte van die perseel waar die NG Kerksaal tans staan. In 1956 is die biblioteek aan die munisipaliteit oorhandig. Die dorpswembad op die hoek van Simon van der Stel- en Akasiastraat is gedurende Februarie 1976 voltooi en ‘n tweede swembad in Loopstaart is in Mei 1993 voltooi.