Piketberg se eerste Kerkorrels

African Methodist Episcopal Church (AME) Piketberg

Eerwaarde A. Phigeland het ‘n hoë premie op musiek onderrig geplaas en het sodoende verseker dat alle skoolhoofde musikaal opgelei was. Met die eerste geleentheid wat fondse beskikbaar was, het die Kerk sy eerste orrel aangekoop.

John Frank Sherlock en Wilbur N. Manning, die stigterslede en eienaars van Sherlock Manning, het in 1902 in Ontorio, Kanada, orrels begin vervaardig en later tot meer as ‘n 100 van die produkte per maand beskikbaar gestel. Dit het hulle slegs twee jaar geneem om hierdie mylpaal te bereik, maar na 58 jaar in die bedryf het die maatskappy in 1960 hul deure finaal gesluit.

Die AME Kerk in Piketberg het hul eerste orrel, die Sherlock Manning in 1910 vir ‘n totale bedrag van $35.00 aangekoop en in April 1912 die laaste paaiement betaal. Die orrel was tussen 1910 en 1968 in die skool en die kerk gebruik. As gevolg van die Groepgebiede Wet moes die AME Kerk van Kloofstraat af verskuif na waar dit vandag staan en so is ‘n nuwe orrel aangeskaf.

Nederduitse Gereformeerde (NG) Kerk Piketberg

 Die “Cathedral Church Organ” gemaak deur Cornish Piano & Organ Company het ontstaan in Washington, New Jersey in 1879. Hulle het hoofsaaklik van posbestellings gebruik gemaak en direk aan die verbruiker verkoop. Dit was een van die grootste fabrieke van sy soort in Amerika.

Alle Cornish klaviere en orrels was deur opgesmukte kerfwerk en goeie kwaliteit gekenmerk, maar ongelukkig is die fabriek in 1922 deur ‘n brand vernietig en is nooit weer herbou nie.

Die “Cathedral” orrel is hoofsaaklik in die Sondagskool klaskamers gebruik, maar was soms ook vir formele dienste beskikbaar wanneer die hoof orrel buite werking was of nagesien moes word.

Albei orrels kan tans in Piketberg Museum se uitstalling besigtig word.