Die eerste staal brug in die Kaapkolonie

Op die N7 tussen Moorreesburg en Piketberg is daar ’n klein padteken wat wys “Die Brug”. As jy die pad volg deur die prentjiemooi plase, sal jy op ’n brug afkom, wat eers bekend gestaan het as die Groot Berg Rivier Brug. Hierdie brug staan op die plek wat oorspronklik as die hoofpad tussen Eendekuil en Piketberg gebruik was.

Die brug is opgerig in 1863 en het ’n baie interessante agtergrond. Hierdie 110 meter enkel staal balk was glad nie gebou om oor die Bergrivier te strek nie, maar was wel bedoel om Australië sy tuiste te maak.

In 1850 het ’n skip, op koers vanaf Engeland na Australië, aan wal gekom by Tafelbaai, vir nood herstelwerk. Hierdie skip het onder andere as deel van die vrag, hierdie volledige staal brug vervoer. Die brug moes verwyder word sodat herstelwerk aan die skip gedoen kan word. Dit is met behulp van ’n hyskraan wat bo-op ’n ander skip gestaan het, gedoen. Teen die tyd wat die herstelwerk voltooi is, het die hyskraan klaar die Baai verlaat en was daar geen manier waarop die brug terug op die skip geplaas kon word nie.

Die brug is so op Kaapstad se hawe agtergelaat en het vir baie maande daar gelê. Die Bergrivier was die naaste rivier wat breed genoeg was om hierdie brug te akkommodeer. Op 25 Augustus 1860 skryf die Hoof Kommissaris van Kaapstad ’n brief aan Mnr. JA. Rogers, die hoof-padengineer op Piketberg. Dit is die bedrae wat deur die parlement goedgekeur is vir die vervoer en installasie van die brug

  • – No. 1 Instandhouding van Piketberg pad tot Grey’s Pass. – £200.00
  • – Instandhouding van Grey’s Pass. – £45.00
  • – Groot Berg Rivier Brug Konstruksie – £4000.00

Op 21 Maart 1863 het Mnr. Rogers instruksie van die Kaap ontvang om die brug, sonder enige seremonie, oop te stel vir die publiek. By die brug is daar later ’n tolhek en hotel opgerig, waarvan vandag slegs die murasies nog staan.