Hierdie stookketel met ‘n inhoud van 4 halfaam (64 gellings of 72,7 liter) is afkomstig uit die wynlande van Paarl – Wellington. Met die hulp van ene Joep Joubert van Wellington, is dit in 1932 aangekoop deur Adriaan Louw, van die plaas Klaarfontein, Redelinghuys. Na Adriaan se dood in 1959, het die ketel as erfstuk, die besitting van Koos Louw van Piketberg geword.
Mnr. Louw het die ketel aan die Piketberg Museum geskenk op 09 Julie 1992.
Die ketel is ‘n uitstekende voorbeeld van die vakmanskap wat voor 1964 in Suid-Afrika bestaan het. Die ketel is met die hand gemaak en is uit soliede koper geslaan. Die ketel is hoofsaaklik gebruik vir die stook van witblits, wat ook as Kaapse Wingerdblits bekend staan. Dit is ‘n klare(*) brandewyn, wat sedert die 19de eeu aan die Kaap gedistilleer is.
Gewoonlik is druiwedoppe, die oorskiet van die wynmakery, vir die distillasie van die alkoholiese drank gebruik. Dit het ook as ‘n uitstekende geneesmiddel bekend gestaan.
Die Voortrekkers van die 19de eeu het hierdie tradisie bewaar en hulle stookketels saamgeneem tydens die Groot Trek. In Transvaal word nog steeds verskillende vrugte gefermenteer en gedistilleer vir die plaaslike brandewyn, beter bekend as Mampoer.
Na verbanning van die nie-kommersiële stook (in 1964) is hierdie tipe ketels vernietig deur die SARS en SAPD amptenare. Tot vandag toe word al hierdie nie-gelisensieerde ketels deur die SARS of SAPD vernietig.
Een van hierdie rare en besonder stookketels is te sien by die Piketberg Museum en is op uitstalling in die Sinagoge gebou.
(*)Klare brandewyn: ‘n Witblits wat ook as ‘n Kaapse wingerdblits bekend staan.