Lykswa van die Strooidakkerk

Uit die onderhandelinge (gelees in die kerk notules) met die lykbesorgers Goodall & Williams en Wasserfall& Hardick blyk dit dat die gemeente Paarl in 1937 ’n nuwe lykswa aangeskaf het.

Derhalwe verskyn daar in Die Kerkbode van 22 September 1937 ’n advertensie waarin die N.G.gemeente, Paarl die ou lykswa as geskenk aanbied aan enige gemeente, blank of sending, wat dit wil hê.

Aansoeke het van oral ingestroom en in die meeste gevalle was die aansoeke baie goed gemotiveer:

Van die Sending gemeentes   Harrismith (O.V.S) 28/9/37

Riebeek-Wes 27/9/37

Thaba Nchu 33/9/37

Van die blanke gemeentes      De Aar 26/9/37

Windhoek 24/9/37

Griekwastad 25/9/37

Die N.G.gemeente van Redelinghuys het egter die stryd gewen. Die klaarblyklike familieband tussen die skriba van die gemeente Paarl, Mnr. A. Minaar en die destydse leraar van Redelinghuys, Ds. Izak Minaar, het natuurlik die deurslag gegee.

Op 31 Januarie 1938 versoek Ds. Minaar sy ou neef in die Paarl om asseblief die lykswa daar op die trein te laai. Sedertdien het Redelinghuys die wa gebruik.

Namate gemotoriseerde lykswaens hul verskyning gemaak het, is al hoe minder van die ‘deur diere getrekte waens’ gebruik gemaak, sodat hulle later net nog as oudhede vertoon is. So het hierdie lykswa in 1966 ’n rol gespeel in Redelinghuys se Republiekfees en het daarna ’n staanplek by die skool gekry.

In die vroeë sewentigerjare toe Ds. J. Botes op Redelinghuys predikant was, is hierdie lykswa aan Lambertsbaai geleen om deel uit te maak van die oudhede-uitstalling aldaar; maar op voorwaarde dat, sou Piketberg ’n museum open, die lykswa as museumstuk Piketberg toe kom. Hier het dit dan in 1987 sy laaste rusplek gevind.