Het u geweet dat die Piketberge, wat statig waghou oor die dorp en omgewing, eens die tuiste was van vele wildsoorte en verskeie inheemse stamme, soos die Kogokwas, Ammakwas, Hesskwas, Onikwas, Namakwas, Grikwas en Sonquas? Dat die dorp aangelê is op fonteine en die inwoners self hul watervoorraad in houers na hul wonings moes aandra of aanry? En dat sanitêre reëlings geen hoofbrekens besorg het nie, omdat hierdie wêreld sanderig, wyd en dig bebos was?
Waar ons aan die begin van die 18de eeu vind dat die Piketberge nog net deur hierdie stamme, jagekspedisies en enkele veeboere besoek is, vind ons ‘n honderd jaar later ‘n gevestigde bevolking wat beide veeboerdery en landbou beoefen. Teen 1830 is die streek langs die Piketberge dig bevolk en ontstaan ‘n behoefte aan die stigting van ’n eie gemeente met ’n eie kerkgebou. Behalwe goedkeuring van die betrokke Ring, was verlof van die owerheid nodig vir die stigting van ’n gemeente asook die oprigting van ’n kerk.
Na opmeting en oordrag is die plaas Grootfontein op die naam van die kerkraad oorgedra, die grondbrief onderteken en deur Sir Benjamin D’Urban op 31 Desmber 1835 uitgereik. Die kerkgebou is vroeg in 1836 voltooi en op 8 Oktober 1836 ingewy. Eers het slegs die kerkgebou op die plaas gepryk, ’n rietdak kruiskerk met ’n misvloer en sonder plafon, maar later (1840) is die dorp Piketberg rondom die kerk aangelê.
In 1848 is Piketberg tot een van die nuwe Magistraatsdistrikte deur Sir Harry Smith verklaar, met Kaptein J.M. Hill as eerste Magistraat. Die dorp verleen sy naam aan die feit dat tydens die oorlog teen Gonnema, ‘n militêre voorpos op die berg opgestel is. So ‘n voorpos is in Nederlands ‘n Piquet genoem, wat dan heel natuurlik oorgegaan het en gelê is in die naam van die dorp, Piketberg. (Piquetberg) (word vervolg )