‘n Weeskind se verhaal – Die Burger 3.7.2010

Esther Gilman was ongeveer twee jaar oud toe haar gesin Amerika verlaat het om hulle in Suid ­ Afrika te kom vestig. Hulle het in Desember 1902 in Kaapstad aangekom en hulle uiteindelik in Piketberg gevestig.

Esther se bababoetie, Harry, is op 29 Mei 1903 in Piketberg gebore, maar is op 1 2 November 1903 dood – skaars ses maande oud – en is in die klein Joodse begraafplaas in Piketberg begrawe.

Net vier maande na Harry se dood het sy ma, Fanny Anna (Feldman 29), ook siek geword. Drie weke daama is sy op 26 Maart 1904 aan ingewandskoors dood. Die vader, Lazer Gilman (36), is toe alleen agtergelaat met die bloedjonge Esther.

‘n Jong, kinderlose, Joodse vrou, mev. Mary Klein, het haar oor hulle ontferm en aangebied om na Esther om te sien totdat Lazer Gilman ander reëlings kon tref. Voordat dit gebeur het, het hy egter ernstig siek geword en op 24 April 1904 aan disenterie gesterf. Hy is langs sy vrou en seuntjie begrawe.

Uit vrees vir besmetting is alle klere, foto’s en dokumente van die Gilmans verbrand. Esther,wat toe sowat drie of vier jaar oud was,is ‘n weeskind gelaat. Ben en Mary Klein,wat destyds nog nie kinders van hul eie gehad het nie, het klein Esther by hulle laat aanbly. Ongeveer ‘njaar daarna is die Kleins se eersteling, Leah,gebore. Daar was uiteindelik sewe Klein-kinders.

Esther was sowat ses jaar oud toe sy by die laerskooltjie in Piketberg ingeskryf is. Sy het met verloop van tyd gevoel sy word afgeskeep en dat die Kleins se eie kinders meer aandag as sy kry. Eendag het ‘n ouerige bruin vrou met wie sy bevriend geraak het, haar vertel dit is omdat die egpaar Klein nie haar biologiese ouers was nie.

Sy het Esther na die begraafplaas geneem en gaan wys waar haar ouers en boetie begrawe Iê . Sy het ook aan Esther gesê as sy die grafte in die nag besoek, sal haar ouers kom en met haar praat. Gevolglik het Esther, wanneer dit moontlik was, saans uitgeglip en by die grafte gaan sit en wag.

Een nag, toe sy so tien jaar oud was, het sy op een van die grafte aan die slaap geraak. ‘n Man wat vroeg die volgende oggend daar verbygestap het, het haar daar sien lê. Hy het haar wakker gemaak om uit te vind wie sy was en hoekom sy op die grafte slaap. Die man, wat van Kaapstad was, het haar na die hotel geneem,waar hy meegedeel is dat sy ‘n Joodse weeskind is wat woon by mense wat dit moeilik vind om haar te beheer.

Terug in Kaapstad het hy Esther se lot onder die aandag van die Joodse gemeenskap in die Moederstad gebring. Die gevolg was dat daar besluit is ‘n tehuis is nodig vir Joodse kinders sonder heenkome in die destydse Kaapprovinsie. Esther was sowat elf jaar oud toe die Kaapse Joodse Weeshuis in Bo-Millstraat tot stand gebring is. Sy was die eerste kind wat by die weeshuis aangekom het en was steeds daar toe die weeshuis na ‘n groter gebou in Oranjezicht getrek het.

Die aansoekvorm vir Esther se toelating tot die weeshuis is in April 1911 deur Ben Klein onderteken. In die aansoek is genoem dat albei Esther se ouers oorlede is, dat hulle in Amerika getrou het en dat Esther in Chicago gebore is.

Esther was sowat sestien jaar oud toe sy die weeshuis verlaat het. Omdat die Kleins die enigste “familie” was wat sy geken het, het sy hulle in Piketberg gaan besoek. Ben Klein het aangebied om te betaal sodat sy verder kon gaan leer sodat sy kantoorwerk kon doen.

Onseker oor wat sy eintlik wou doen,het sy haar ouers se grafte gaan besoek. Terwyl sy daar sit, het ‘n ou vergeelde stuk koerantpapier in die sand tussen die grafte haar aandag getrek. Sy het dit opgetel en gesien dit is ‘n advertensie vir leerlingverpleegsters by die Robbeneiland-hospitaal vir “geestesversteurdes”.

Sy het net daar besluit dit is wat sy wil doen en dat sy daarom aansoek gaan doen.

Esther het nie regtig geweet wat ‘n hospitaal vir sogenaamde geestesversteurdes was nie en het gemeen dit is maar soos ‘n gewone hospitaal. lndertyd was die psigiatrie nog in sy kinderskoene en is enige geestestoestand wat nie verklaar kon word nie, as “geestesversteurdheid” of “sielsiekheid” geklassifiseer. Sy het die advertensie vir ‘n plaaslike dokter,’n dokter Reitz,gewys en aan hom gesê sy wil graag ’n verpleegster op Robbeneiland word. Dr. Reitz het haar gehelp om ‘n aansoekbrief te skryf en het ‘n brief ter aanbeveling van haar aanstelling aangeheg. Die meeste van Esther se vriende en kennisse het probeer om haar van haar Robbeneiland-planne te laat afsien,maar nie daarin geslaag nie.

Esther het in 1917 op Robbeneiland aangekom. Daar het die matrone en die mediese superintendent, dr. E. Moon, haar ouderdom bevraagteken, asook dat sy nog nie standard agt (graad 10) geslaag het nie.

Esther het aan hulle ‘n brief gegee waarin die weeshuis verduidelik het dat geen bewys van haar ouderdom bestaan nie en dat sy dus moontlik agtien jaar oud kon wees.Sy het ook haar persoonlike hartseer-verhaal aan hulle vertel,en is gevolglik toegelaat om op die eiland te bly.

Toe Esther op ‘n begeleide toer van die hospitaal vir “geestesversteurdes” geneem is, het een van die pasiënte na haar gestap en haar onverwags deur die gesig geklap. Geskok het Esther gevra waarom die pasiënte daar rondsit en rondloop. Sy wou weet hoekom hulle nie in die bed is as hulle siek is nie en wat die pasiënt makeer wat haar geklap het. Eers toe het sy verneem dis nie ‘n gewone hospitaal soos wat sy gedink het nie, maar ‘n inrigting vir “geestesversteurdes”.

Esther was so ontsteld oor die mededeling en gebeure dat sy nie langer op die eiland wou bly nie.

Terwyl sy in die gang af stap, het sy van die personeellede in ‘n nabygeleë vertrek hoor lag en skerts oor “hierdie nuwe, jong, Joodse verpleegstertjie”. Esther het botstil gaan staan en geluister. Hulle het weddenskappe aangegaan oor hoe lank hulle dink sy daar sou uithou. Een het gesê : “Wie’t nou al gehoor van ‘n Jodin wat geestesversteurdes verpleeg? Ek wed julle sy gaan sommer al op die volgende boot terug Kaap toe.” Hoe durf hulle vir haar lag, het Esther gedink. Sy sal hulle leer! Sy het omgedraai en teruggegaan na Moon en die matrone om hulle mee te deel sy het besluit om op Robbeneiland te bly.

Nie net het Esther sowat drie jaar lank daar aangebly om haar as verpleegster vir
geestesversteurdes te bekwaam nie,maar sy het ook ‘n onderwyser op die eiland gevind wat haar onderrig het wanneer hy van diens was. Sy het standerd 8 geslaag, en kon haar by die Somerset­ hospitaal bekwaam as ‘n gewone hospitaalverpleegster, wat sy eintlik wou wees. Sy was later by die Groote Schuur-hospitaal werksaam.

Toe die pasiënte na die vasteland oorgeplaas is,was Esther daarmee behulpsaam. Die laastes is in 1921 na die Valkenberg-hospitaal in Observatory gebring.

Esther Gilman is in 1922 met Jack Shaer getroud en hulle het vyf kinders gehad. Jack is in 1956 oorlede en Esther op 8 Junie 1989.