Poortemans se skets van die eerste erwe in Piketberg

Die eerste eiendomme in Piketberg was geleë om die eerste kerkgebou. Hierdie eiendomme is opgekoop deur lede van die Kerkraad en belangrike boere uit die omgewing. Die eerste rekord van hierdie verkope dateer terug na 1837, ’n jaar nadat die eerste kerkgebou voltooi is.

Die eerste titel is oorgedra (oorgeteken) aan J.P. Lubbe in 1841, die tweede titel aan Pieter Hougaardt en Jacobus Marais in 1842 en die derde aan J.C. Kotze en J.J. Hanekom in 1843 (hierdie gebou is vandag as die Katzeff Huis bekend).  J.C.  Kotze was een van die drie “Veld Kornets”. Hy was waarskynlik van die plaas Platkloof en Jurie Jurgens Hanekom, ‘n ouderling in die kerk, was van die plaas Winkelshoek.

Die skets deur Poortemans is van die kerk en omliggende huise. Dit dateer uit 1857. Die pastorie, wat op die agtergrond gesien kan word, is van groot geskiedkundige belang.  Johannes Cornelius Poortemans was ’n litograaf en kunstenaar, gebore in Amsterdam in 1813. In 1833 het hy in die Kaap gearriveer. Gedurende die 1850’s het Poortemans in die omgewing van Saldanha gewoon. Dit is hier waar hy baie sketse van plaashuise en ander geboue op die Weskus gemaak het.