Waarvandaan die naam Piketberg?

Franse vertaling: piquet – ’n kaart speletjie vir twee spelers wat gebruik maak van ’n pak met 32 kaarte.

Hollandse vertaling: piket – ’n militêre wagpos

Goewerneur Simon van der Stel het die omgewing besoek toe hy van 1685 tot 1686 ’n tog na die Koperberge in Namakwaland onderneem het. In sy dagregister, op die 5de September 1685, is daar ’n verklaring van die oorsprong van die naam Piketberg. Dit lees dat die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie verplig was om ’n afdeling soldate of piket in hierdie gewese aan te hou, want die Hottentot stam, die Cochoquas met hulle kaptein Gonnema (die swart kaptein), het baie las gegee.

’n Alternatiewe verklaring volgens die bekende Duitse reisiger Peter Kolbe in sy boek Naauwkeurige en Uitvoerige Beschrijving van de Kaap de Goede Hoop (1727), hou die naam verband met ’n destydse kaartspel waarin twee persone met 32 kaarte deelgeneem het. Ook vertel Dr. O.F. Mentzel, wat van 1732 tot 1741 in die militêre diens van die N.O.I.K. was dat ’n sekere Madame Mouton beweer dat een van die Franse vlugtelinge wat naby die berg ’n plaas besit het, elke aand met sy vrou piquet gespeel het. Toe die betrokke Fransman gevra is wat sy plaas se naam is, het hy geantwoord – En bien! Monsieur. Eerivez Mont de Piquet (nou wel meneer, skryf maar Piquetberg). Hierna sou nie net die plaas nie, maar die hele omgewing die naam Piquetberg kry.

Van Dr. Mentzel se tyd is daar reeds baie getwis oor die afleiding van die naam. Daar is egter geen rede om die verklaring van Simon van der Stel se dagregister in twyfel te stel nie.