Maans Meester se seun vertel die verhaal van Die Anglo Boere Oorlog 1899 – 1902

Mnr. Maans Smit (Meester), oud skoolhoof van Redelinghuys, sluit in 1901 by die Boeremagte in die Wes Kaap aan. In die Boland het daar nie baie gevegte plaasgevind nie alhoewel die Theron Verkenners Korps baie bedrywig was onder lyding van Manie Maritz.

Die meeste rebelle is na die kommando’s gestuur waar hulle onder Generaal Malan geveg het. Mnr. Maans Smit, sy swaer Mnr. Johannes van Zyl, Mnr. Dirk Smit van Modderfontein en Mnr. Dirk Visser (Rooi Dirk) van Voëlvlei is van die boere wat weggestuur is. In die Bergrivier was die lede van die Theron Verkenners Korps meestal offisiere.

In die dorpe, ook hier op Piketberg was daar verraaiers soos die Town’s Guards en  naby Redelinghuys was daar ’n groep genaamd “die Krupp se Kommando”. Hulle was baie vuil en verflenter en altyd honger. Op ’n dag arriveer hulle by Rietvlei Plaas (wat behoort het aan Koos Visser) op soek na kos.

Uit desperaatheid steek hulle die skape met bajonette dood – daar raak hulle slaags met ’n klompie boere en die koppie daar naby word vandag nog “Vegkop” genoem. Op dieselfde kop is al die Engelse perde doodgeskiet, asook een Engelse soldaat. Al hulle besittings is gevat en die lyke net daar gelos.

Daar was vele verraaiers onder die Boere. Een van hulle ene “Lam” Colyn, het die boere vier keer verraai en elke keer het Manie Maritz hom ’n pak gegee dat sy baadjie se flenters gewaai het, maar hy wou nie luister nie. Hy is toe doodgeskiet in die omgewing en in Graafwater begrawe.

Toe vrede kom is al die boere (rebelle) in die Oostelike provinsie op ’n veetrok gelaai en by Gouda afgelaai. Maans Meester moes daarvandaan stap na Redelinghuys. Op Piketberg was sy voete al so stukkend en seer dat Mev. Anna Eksteen se moeder, Mev. Myburgh, hom eers nader geroep het, sy voete verpleeg het, hom gevoed en versorg het totdat hy weer verder kon loop.

Na die oorlog kon die boere wat as rebelle verklaar is, nie in die staatskole onderwys gee nie. Boere om Kruisfontein het toe vir Maans Meester aangestel om tuisonderrig aan hulle kinders te gee. Sy loon was betaal in die vorm van boontjies, patats, meel ensovoorts wat die boere van hulle plase af verkry het.

Johan X Merriman het die verbod op rebelle as onderwysers opgehef en so kon Maans Meester in staatskole gaan onderwys gee teen ’n salaris van £40.00 per jaar. Nadat Dr. Radie Kotze se pa weg is van Redelinghuys, het Maans Meester daar gaan onderwys gee. Hy het baie keer opgetree as dokter. Hy is toe later in Redelinghuys oorlede.