’n Rat voor die oë van die vyand gedraai! Piketberg en die Anglo Boere Oorlog

Die Anglo Boere Oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek. Duisende Britse troepe het in die Kaap aan wal gestap, met tonne militêre toerusting wat  saam afgelaai was. William Schreiner, Eerste Minister van die Kaapkolonie en eggenoot van Frances Reitz, wou hê dat die Kaap neutraal moes bly tydens die oorlog, alhoewel sy opvolger, Sir Gordon Sprigg, alte graag sy samewerking vir Lord Milner gegee het.

Die kerk in Piketberg was as middelpunt afgesonder tydens die oorlog. Die hele dorp is in gereedheid gebring vir die koms van Manie Maritz. Maritz het voor die einde van die oorlog in Porterville gaan skuil. Hy het die soldate egter omseil deur vir Jan Theron, tesame met 300 man Piketberg toe te stuur, op 4 November 1901.

Op 7 November het die Britse “Town Guard”, “Western Province Mounted Rifles” en “District Mounted Troops” onder Majoor AF Pilson die dorp goed beskerm. Hierdie  geveg het die hele dag geduur. Op 8 November 1901 het Jan Theron, met sewe gewondes en slegs twee dooies, teruggetrek. Die Britse magte het drie soldate aan die dood afgestaan. Terselfdertyd het 40 boere Porterville aangeval en sodoende by Maritz aangesluit. Hy en sy manne het teen 14 November uit die bewoonde dorpe beweeg, terug oor die Bergrivier.

Soos geskryf in ‘n koerant, SA Weekly, van 23 November 1901: “Theron’s attack on Piquetberg was repulsed by a garrison of Town Guards. The boers occupied outlying houses before daylight. Taking advantage of the protection of walls, they crept closer and opened fire on the Blockhouse at daybreak. Due to hot firing, they could not cut the wires around the Blockhouse. Fired all day. Before daylight on 8 November, the boers made the last attempt and then withdrew.”

Die Kaapse rebel, Ockie de Villiers, het sewe maande lank onder ’n bakkrans, in die omgewing van die plaas Groot Kloof, aan die hang van Piketberg, teen die Kakies geskuil. Hy het hierna by Manie Maritz se manne aangesluit.

In die omgewing van die Sauer Poskantoor op Zuurfontein, het daar ook ’n geveg plaasgevind tussen Manie Maritz en die Britte. Volgens oorlewendes, is daar ’n Britse soldaat wat spook omdat hy van dors omgekom het. Twee beeste is spesiaal vir Manie Maritz by hierdie muur geslag. Maritz moes ’n heildronk op die Koningin instel, om sodoende te keer dat die eienaar nie beskuldig word van verraad teenoor die Britse regering nie. Hiervandaan beweeg Maritz na Moorreesburg en dan na Darling, wat op 10 November 1901 aangeval is.

In hierdie tydperk is die skool vir veertien dae gesluit. Die skool het as hospitaal gedien tot en met 1902. Die skoolhoof, Mnr. Pauw is daarvan verdink dat hy kos aan die Boere magte verskaf het. Britse offisiere het in die Commercial Hotel tuisgegaan, terwyl gewone soldate hulle kos in die skoolkoshuis gekry het.

Ds. Vlok se lojaliteit aan die Britse owerheid het ’n skeuring in die NG Kerk veroorsaak tussen die Bruin- en Blanke lidmate. Hy het selfs die kerk beskikbaar gestel vir vrouens en kinders, asook vir sy invalide skoonvader. Ds. Mostert van die NG Gemeente Porterville, het Ds. Vlok se versoek, om vir die Koningin van Engeland te bid, geweier. Kort daarna in 1902 is Ds. Mostert in die tronk in Porterville opgesluit. Hy is ’n dag of twee later na ’n kamp op Matjiesfontein gestuur.

Bruin mense soos Frans Basson het hulle aan die kant van die Britse owerheid geskaar omdat dit vir hulle soveel beloftes ingehou het. Die gevolg was dat daar nie meer genoeg Bruin mense op die plase was, om te help om die graanoeste af te haal nie.

Na die oorwinning van die Britte teen die boere, het die Anglo Boere Oorlog uiteindelik tot ’n einde gekom op 31 Mei 1902, toe die Vryheid van Vereeniging onderteken is.