Herinneringe van Dr. JJ Ackermann – Piketberg Algemene Praktisyn vanaf 1917 tot 1967

Johannes Jacobus Ackermann, gebore 7 Maart 1890 het sy primêre skooljare op Moorreesburg deurgebring en is in 1910 ingeskryf by Die Akker, Stellenbosch. Voornemende geneeshere het toendertyd net een jaar op Stellenbosch studeer voordat hulle Ikeys toe is. In 1913 word hy een van die eerste groep 2de jaar mediese studente aan “The South-Africa College of Cape Town”. Hy het die kursus, tesame met 3 ander studente in Skotland voltooi.

Opleiding in Engeland tydens die Eerste Wêreldoorlog:

Nieteenstaande die oorlog, wat in Julie 1914 begin het, kon die studente hulle studies voortsit terwyl hulle ook diens in die militêr gedoen het, meestal in die ambulans korps. Dr. Ackerman het by die “Royal Field Artillery” van die Universiteit van Edinburgh aangesluit.  Na sy kwalifikasie het hy teruggekeer na Suid-Afrika en ’n algemene praktyk in Piketberg gestig, nadat vele boere hom gevra het.

Algemene Praktisyns was maar yl op die platteland en die enigste ander dokters in die distrik was Dr. Kramer, Dr. Nortje, Dr. Bruwer en op Moorreesburg, Dr. Du Toit.

Die spreekkamer was meestal deel van die dokter se huis, dus het moeder ook die rol vertolk van ontvangsdame, telefoniste, verpleegster en apteek-skoonmaker. Die deurklokkie het na 5pm die foon vervang en nuuskierige pasiënte het gereeld by die eetkamer se venster ingeloer.

Met geen mediese fondse was gelde vir dienste gehef volgens algemene gebruik: ’n bevalling vir 5 pond, ’n oproep 10 sjielings en ’n opvolg konsultasie 5 sjielings. Die dokter het self die medisyne aangemaak en Arseen en Bismuth is vir die behandeling van veneriese siektes toegeken. Morfien moes eers opgelos word in ’n teelepeltjie en verhit word met ’n brandende vuurhoutjie, voordat dit in die spuitnaald opgetrek kon word.

Dr. Ackermann praktiseer tot en met 1967 in Piketberg en is oorlede op 29 Augustus 1986.