Sheila Cussons 1922-2004

Sheila Cussons is op 09 Augustus 1922 op Morawië, in die distrik Piketberg gebore. Sy is twee maande later in die NG Kerk Piketberg gedoop. Haar pa was die stasiemeester. Sy is in hul spoorweghuis gebore en was die oudste van 3 kinders. Sheila se pa was van Ierse afkoms, maar trots Afrikaans, haar ma was ‘n nooi Rabie, van Riversdal. Van Piketberg af, het die familie orals op Spoorweghaltes in die land gewoon tot sy gematrikuleer het.

Sheila het in die beeldende kunste aan die Universiteit van Natal studeer. Dis waar sy die digter DJ Opperman ontmoet het, wat haar aangemoedig het om in Afrikaans te skryf. Sy vertrek in 1945 na Londen om verder in die kunste te studeer. Gedurende hierdie studie tydperk het daar ‘n verhouding tussen haar en NP van Wyk Louw ontwikkel. Sheila trou in 1956 met die Spanjaard, Joan Saladrigas en twee seuns word uit die huwelik gebore.

Sy debuteer in 1970 met “Plektrum” was verskeie literêre pryse gewen het. Sheila keer in 1981 terug na Suid-Afrika en vier retrospektiewe uitstallings vir haar werke is later hier gehou. Sy is ook vereer met verskeie eredoktorate. Op 25 November 2004 sterf Sheila in Vredehoek te Kaapstad.

Haar nalentskap was groot en word puik verwoord deur André P. Brink:

“Met min maar suiwer woorde het sy vir haar ‘n plek in die Afrikaanse literatuur en in ons gewete, oopgeskroei waaruit nog lank heling en nuwe groei denkbaar is.”

Baie van Sheila Cussons se digbundels is beskikbaar in die museum, sowel as verdere inligting oor haar lewe en werke. Kom besoek ons gerus om meer inligting oor hierdie talentvolle oud-Piketberger te bekom.

 

‘n Kleindorpse fragment

Is al my paadjies toegegroei?

Ek het so lig oor hulle gegaan,

met spitse kaalvoet kennis hier

en daar net grondgevat

want oral was die aarde een

vyandigheid van hitte, duwweltjie en mier:

ek sien my nog waaghalsig nael

soos sonde oor die werf wat gloei

en bitsig aan my voetvel byt,

en, kop omlaag, my vasloop teen

die hele Maandagwasgoeddraad

se haelwit selfgeregtigheid.

Plektrum (Tafelberg, 1970)